Tuiste > Afrikaans, Afrikaners, Kuns > Quo Vadis, Afrikaanse Stories?

Quo Vadis, Afrikaanse Stories?

Oom Jan Spies

Almal wat my blog lees, is waarskynlik oud genoeg om vertroud te wees met Spies & Plessis wat in die middel- tot laat jare tagtig op TV was. Dit moes noodwendig baie laat op Vrydagaande uitgesaai word omdat hulle kru woorde soos donder, drol en stront gebruik het, en vir die gemiddelde landsburger het dit net nie gedeug op daardie stadium nie. (Skynbaar moes dit ‘n leeftyd voor albums soos Lekker Stoutgat Treffers & Sies Jou Vark gewees het.) Ek dink in elk geval S & P was ʼn program in goeie smaak gewees, nou dat ek al ʼn paar keer gelukkig of ongelukkig Maak ʼn Las gekyk het; g’n wonder party mense dink Afrikaners is kommin nie. Uiteraard het ek, omdat ek daardie tyd al kisboude gespeel was, nooit Spies & Plessis gekyk nie, maar ek het later uittreksels van sekere dinge op S&P gesien.

Hoe ouer ek word, hoe meer dink ek S & P het ʼn Volkserfenis neergelê wat nie almal op daardie stadium besef het nie – en dit was die Volkserfenis van die Afrikaanse Volksverhaal. Eintlik is Volksverhaal die verkeerde woord. Die Afrikaanse Staaltjie is dalk ʼn beter beskrywing. En die Kuns om so ʼn staaltjie te kan vertel. Of jy Oom Jan Spies gehoor of gesien of gelees ʼn staaltjie vertel het - daar was net nooit beter nie. Ek sal nooit sy vertelling van Waaksaam vergeet nie. Net so sal ek nooit Oom Tolla van der Merwe se Citrusdal Marathon vergeet nie, alhoewel Oom Tolla nie my gunsteling was nie. My naasgunsteling is Pieter Pieterse – maar ek hou meer daarvan om hom te lees as om hom te hoor – behalwe as dit oor Swerwerskos & allerhande konkoksies was. My middelrif raak seer as ek net aan sy storie, Jambruin tender sy laaste tender dink; net so wil ek ʼn hele boks snesies gaan haal wanneer ek dink aan sy storie Sondag, anderdag, Woensdag. Ek dink nie dis die presiese titel nie, maar dit was op daardie trant. En wie sal ooit oom Koos Meyer se stories van sy stuitige studente dae en sy Volla sonder ʼn enjin vergeet? Wie sal ooit Danny Pretorius se storie (in Zoeloe, nogal) vergeet van die bantoe wat voor die Landdros sy storie vertel van hoe dit gekom het dat Natuurbewaring met sy .22 geweer sit?

Die punt waarby ek so lank draai om uit te kom is dit: Afrikaans het ʼn waardevolle skat van sulke stories; ongelukkig, noudat oom Jan en oom Tolla en die meeste van daardie generasie vertellers Sipresse toe is, word daardie skat verwaarloos, en raak hy dalk heeltemal verlore. Onwillekeurig vra ek myself ook, hoeveel goeie staaltjies is daar buite wat verlore raak, bloot net omdat dit nooit opgeteken word nie? As jy wil sien wat ek bedoel, kliek gerus hier.

Daar is ongelukkig ook ʼn parallel tussen die modernisering en verstedeliking van die Afrikaner en die habitat van soveel dierespesies wat as gevolg van verstedeliking bedreig word. Die habitat waarin ons Volksverhale en -staaltjies gegroei het bestaan amper nie meer nie. Die meeste van die staaltjies is ongelukkig afhanklik van die plaas milieu. Soveel van die dinge wat in so ʼn staaltjie ingaan het ʼn bietjie kennis nodig van ʼn plaas se werkinge – en daar is betreklik min mense in my generasie wat nog daardie kennis het; ons kinders gaan desnoods nie daardie kennis hê nie.

As ons in my generasie nie iets daadwerkliks aan die toedrag van sake gaan doen nie, gaan ons kinders nie die staaltjies hê nie. As ek vir bloubloed mag aanhaal oor stories, en dit van toepassing maak op post-moderne stories, “daar is niks daaruit te leer nie en geen voordeel om daaruit te trek”. Vandag se stories is oor die algemeen niksseggend en leeg.

Hier is wat ek daaraan gaan doen: In my familie is daar ʼn rykdom sulke soortige verhale en staaltjies. Ek gaan seker maak dat ek hulle dokumenteer voordat hulle graf toe gaan saam met die ooms en die tannies,  die oumas en oupas. Die ma’s en pa’s moet maar hul eie stories neerskryf; hulle weet hoe :-P

Hierdie stories wil ek graag edit en publiseer, aangebied op ʼn manier wat mense wat nie die plaasagtergrond het nie, dit kan verstaan. Dit wil sê, ek wil die kennis wat nodig is om die storie te verstaan ook voorsien. Hierdie kultuurskat, ons stories, moet behoue bly vir die nageslagte. Indien jy my behulpsaam wil/kan wees met so projek, stuur asseblief vir my ʼn e-possie. Ek het nog nie oor die geregtelike aspekte van so ʼn versameling stories van soveel verskillende bronne gedink nie, en as iemand my met regsadvies daaroor kan bedien, sal ek ook dankbaar wees.

Ek dink hoeka die tipe mens wat Afrikaanse blogs lees is die regte mens om by te begin as jy sulke stories wil versamel.

Categories: Afrikaans, Afrikaners, Kuns
  1. 3 April 2008 at 12:17 nm | #1

    Nico

    Dit is ‘n bakgat idee. Ek self kan nie ‘n storie vertel nie. Nie my talent nie, maar hier swerf beslis ‘n paar bloggers wat kan.

  2. 3 April 2008 at 12:22 nm | #2

    En terloops.

    Spies en Plessis was op toe ek nog 8 uur moes gaan slaap. Ek dink die laaste episode is uitgesaai voordat ek klaar met laerskool was. Ek dink ek is 5 jaar jonger as jy.

  3. 3 April 2008 at 12:54 nm | #3

    Adrie,

    As jy nog op skool was toe die rottangs gebêre is en die gradestelsel geïmplementeer is, klink dit vir my omtrent reg. Ek het in 1995 gematrikuleer.

  4. 3 April 2008 at 12:55 nm | #4

    Riana Scheepers het so boek probeer met plaasverhale wat mense vir haar moes stuur, maar die boek was te “letterkundig” aangepak. Dit was nie stories soos wat jy hier van vertel nie, daardie juwele. Ek dink dit is ‘n briljante idee, om die menswees oor te dra.

  5. 3 April 2008 at 2:16 nm | #5

    Rosalind,

    Ek dink dis heeltemal waaroor dit moet gaan; om iets van die menswees van die tyd vas te lê.

    Die ding is ook dit hoef nie net plaasstories te wees nie; My tannie het 5 stories oor die mannewales van een van haar kollega’s wat ek graag op papier wil kry, en hulle is almal “stadstories”.

  6. 3 April 2008 at 2:30 nm | #6

    Dat hierdie stories vir die nageslag bewaar moet word is nie altemit nie. Maar die eintlike lekker van sulke stories lê in die vertel, en die kuns van ‘n meesterverteller soos oom Jan Spies kan jy nie in ‘n boek vaslê nie, jy moet dit sien en hoor. As jy dit kan regkry het jy ‘n wenner.

  7. 3 April 2008 at 3:11 nm | #7

    Briljante idee!

  8. ADRIANA
    3 April 2008 at 3:48 nm | #8

    Nico, jammer, bekla jou lot by Pikkie, maar jy is getag.

  9. 3 April 2008 at 5:22 nm | #9

    Dis waar dit hoef nie plaasstories te wees nie, net lekker stories, goed geskryf, of dan goed ge-edit deur ‘n goeie redakteur.

  10. 3 April 2008 at 5:57 nm | #10

    Of ‘n taalstudent :p

    Great idee!

  11. 3 April 2008 at 8:00 nm | #11

    Uitstekende idee Nico en ek dink regtig Johan is net die regte ou om jou te help. Use it. Don’t use it. :-)

  1. No trackbacks yet.