R18LV - Contains graphic descriptions of nasty thoughts and medical conditions which may be upsetting to sensitive readers…
Hierdie keer skryf ek ‘n posting omdat ek voel ek moet een skryf… dit gaan nie oor ‘n “proof of life” nie, dis net… omdat.
Hierdie afgelope week was maar soos altyd ‘n woeste roller coaster ride en ek dink ek het nou uiteindelik begin naar raak. Ons het einde ten laaste ‘n hofdatum - die 28ste Augustus - en ek is nie so verlig daaroor soos wat ek gehoop het ek sal wees nie. Dit vang my nou eerder dat daar so ‘n finaliteit aan die ding is… die point of no return lê agter ons. Die Rubicon is oorgesteek. Die trein het nie meer brieke nie. Die finaliteit daarvan het my met my broek op die knieë gevang, en dit het my tot die besef gebring dat ek hier moet wegkom. Ek wil hardloop, ek wil wegkruip… nee, nie regtig nie. Maar hardloop, ja. Ek wil net vir ‘n rukkie vir die pyn weghardloop, al weet ek dit sal my bly volg totdat ek omdraai en dit face. Maar ek sal verkies om dit ‘n bietjie uit te stel.
Dit bring my by die punt dat ek nodig het om ‘n bosberaad van soorte met myself te gaan hou. Ek het gedink ek sal die 28ste na ons saak afgehandel is verdwyn na ‘n ligging wat slegs aan myself bekend sal wees. My selfoon sal af wees, my laptop by die huis, en mense moenie verwag om voor Sondag die 31ste van my te hoor nie. Maar ek sal dit waardeer as iemand vir my ‘n aanbeveling kan maak vir ‘n goeie venue vir so ‘n bosberaad, een wat nie die bank gaan breek in terme van petrol en akkomodasie endiesmeer nie, maar wat darem ook ver genoeg uit Pretoria uit weg is dat ek kan sê ek laat die stad agter. Ek sou graag bietjie wou gaan duik by Sodwana, maar ai, tog! Die Randjies…
Wat bespreek mens met jouself op so bosberaad? Gaan dit daaroor om vrede met jou situasie te vind? Of om vrede met jouself te kry? Of vrede te vind met ‘n Metafisiese Wese waarvoor jy nie die nodigheid in jou lewe sien nie en aan Wie jy net nie ‘n behoefte ervaar nie? Gaan ‘n Bosberaad oor vrede?
Ek weet nie watter besluite ek kan neem op so beraad nie; daar is te veel. As ek dalk met ‘n agenda vir ‘n Bosberaad kan terugkom van die een af het ek dalk baie uitgerig. Ek gaan waarskynlik emosioneel te rou wees met my Bosberaad; dit sal nie wys wees om enige groot besluite te neem nie. So, gaan ‘n Bosberaad oor besluite?
Miskien moet ek myself in die oë gaan kyk, maar ek is nie van plan om ‘n spieël saam te ry nie. Is dit nou ‘n goeie tyd om myself in die oë te kyk?
Dis ook waarskynlik dat ek op daardie stadium ’n verlies van ‘n ander aard gaan moet verwerk; dit gaan regtig nie goed met Ouma nie en die dokters sê daar is nie eintlik hoop nie, hulle kan haar nog net gemaklik maak.
Waarom moet dit nou gebeur? Waarom, om hierdie stadium van my lewe wat ek ander dinge het wat my energie vereis? Hoekom werk dinge so uit? Wie se idee van ‘n siek grap is dit? Hoekom is aborsie OK in hierdie land, in hierdie wêreld waarin ons leef, maar jy mag nie iemand eutaniseer nie? Watter een is meer medemenslik? Wie besluit oor hierdie dinge? Hoekom kan mens nie iemand wie se vlees letterlik besig is om vrot te word, wat in elk geval nie meer WIL lewe nie, uit die lewe help nie? Wat is meer medemenslik? Om daardie persoon se smart te verlig en hulle met ‘n greintjie waardigheid te laat sterf, of om hulle lewendig te laat vrot word?
Of is dit iets wat mens op ‘n Bosberaad vat? Die feit dat jy so kwaad is vir die wêreld waarin jy gedwing word om te leef? En wat presies doen jy daaraan? Watter besluite neem jy om dit vir jouself draagliker te maak? Of watter vrede vind jy daarmee? Bereik jy ‘n wapenstilstand en word net nog ‘n skaap in die voerkraal, of hou jy aan fight met jou pea-shooter teen die tornado? En altwee se uiteinde is presies dieselfde…
Fok, ek is kwaad! En bitter! En gatvol! En moerse depressed.
PS. Ek het laasnag van my eks-baas gedroom. Ek het gedroom hy is ‘n midget wat by ‘n go-kart baan werk. Dis vir my positief - ek begin om die man te vergewe en hel, ek sukkel daarmee…





